07/09/2026
Abba Vader, die dag is verby, die son het gesak, die natuur het stil geword. Vader, ek wil ook stil raak voor U vanaand, ek het so 'n behoefte om met U kontak te maak. Vader, so in my stilte, kan ek nie anders as om die volgende lied se woorde aan te haal nie: "Down on my knees, I found my Jesus, Down on my knees I found my Lord, not on the mountain nor in the valley, down on my knees I found my Lord." Vader, ek het U nie op die bergpunt of 'n buitegewone plek ontmoet nie, maar op my knieë. Vader, ek bid in besonder vir hulle wat siek, eensaam en alleen is, hulle wat hartseer is, en lê hulle aan U voete neer vanaand en ons sê reeds baie dankie vir die wonderwerk wat U vir elkeen wat in U glo doen, vir die genesing wat plaasvind, en vir die innerlike heling wat U bewerk. Vader U is ons alles, U is ons Redder, U is ons Voorsiener, U is ons Geneesheer, U is die Begin en die Einde, Vader, hoor en verhoor asseblief ons gebed en bring verligting en uitkoms vir elkeen wat U Naam aanroep. Vader, hou U hand oor ons gedurende die nag en wek ons môre oggend met 'n eerste gevoel van dankbaarheid, teenoor U ons Skepper en ons dank U reeds daarvoor, Amen.