13/08/2012
SKAAL VERWAGTINGE AF
deur Alwyn van der Merwe, Direkteur van Beleggings - Sanlam Private Beleggings
Pas beleggingsverwagtinge aan ooreenkomstig druk op ekonomiese aktiwiteitsvlakke wêreldwyd.
Laer opbrengste die voorland:
Een van die algemeenste beleggingsonderwerpe onder bespreking is die huidige wisselvalligheid van aandelepryse wêreldwyd en plaaslik. Hoë wisselvalligheid gaan gewoonlik gepaard met hoë belegger- en kliëntevlakke. Hoewel wisselvalligheid van aktuele belang is, is ek nie so bekommerd daaroor nie. Wat my meer bekommer is ’n omgewing waar Suid-Afrikaanse beleggers/kliënte
vir lief sal moet neem met laer beleggingsopbrengste in die hele spektrum Suid-Afrikaanse bateklasse. Uit gesprekke met kliënte en vriende kom ek agter beleggers se verwagtinge is op historiese ervarings gegrond, of erger nog, onrealistiese verwagtinge as gevolg van die swak finansiële posisie waarin hulle verkeer.
Wipwarit voor:
Suid-Afrikaanse batebestuurders en finansiële tussengangers het sedert 2003 ’n taamlik gladde rit met hulle kliënte gehad. Ja, ons moes deur die ineenstorting van aandeelpryse in 2008 navigeer, maar plaaslike aandeelpryse het in onlangse weke weer nuwe hoogtepunte bereik. Tog het aandeelpryse ondanks die onbestendigheid met gemiddeld 15.5% per jaar (p.j.) gestyg vergeleke met ’n inflasiekoers van 5.5% p.j., wat ’n tamaai reële opbrengs van 10% p.j. vir die tydperk tot gevolg gehad het. Genoteerde eiendom het selfs beter gevaar met ’n totale opbrengs van 17.6% p.j. oor die afgelope 10 jaar.
Ek meen dit is hoogs onwaarskynlik dat ons soortgelyke vertonings oor die volgende dekade sal sien. Sedert die vroeë 2000’s was daar drie belangrike faktore wat in SA aandele se guns getel het. Eerstens het hulle vanaf ’n lae basis begin. Plaaslike aandele was goedkoop. Tweedens het winste ’n hupstoot gekry danksy hemelhoë kommoditeitspryse. In die bulmark het metaalpryse met gemiddeld 300% in dollar gestyg. Derdens het
verbruikersbesteding vinnig gegroei danksy die opkoms van ’n nuwe swart middelklas.
Wêreldbeskouing:
Dit is moeilik om opgewonde te raak oor die vooruitsigte vir ander bateklasse. Wêreldwyd is kontantopbrengste laag, effekteopbrengste is op historiese laagtepunte, en die opbrengs op eiendomsaandele is onaantreklik. Aandele is oor die algemeen goedkoop. Die nuus is egter toenemend negatief.
Ekonomiese aktiwiteite is wêreldwyd onder druk, wat ’n risiko inhou vir toekomstige winsgroei. Die owerhede probeer dit teenwerk met akkommoderende beleid, maar die resultate is bra gedemp. Voeg daarby die werklike risiko dat Europa op ‘Lehman-tipe’ gebeure afstuur en mens kan beleggers se vrese verstaan.
Wat nou?
Ons raad aan kliënte is om hulle beleggingsverwagtinge in heroënskou te neem. In ’n lae inflasie-omgewing is nominale opbrengste geanker aan die lae inflasiekoers. Enkelsyfer- reële opbrengste sal waarskynlik die norm wees en ons sal ons daarna moet skik. Laat geduld die wagwoord wees by beleggings. Onsekerheid skep gewoonlik geleenthede. Laastens, batebestuurders sal hulle werk uitgeknip hê om nuwe juwele te vind. Dít is waar ons uitdaging lê en ek glo SPI is gerat daarvoor. Terwyl ons in SA bederf is met skouspelagtige opbrengste, het ons eweknieë in die ontwikkelde markte pas ’n verlore dekade deurleef. Ons kan met gerustheid geleenthede in ’n internasionale wêreld soek waar menige SA belegger dit nie wil waag nie.