26/07/2012
Al méér mense begin hulp vra
Jul 24 2012 21:07Letitia Watson
Kaapstad. – Skuldmediasie het verlede jaar aansienlik toegeneem en die meeste sake wat volgens die nuwe skuldberadingstelsel gehanteer is, is suksesvol afgehandel.
Volgens die Nasionale Skuldmediasievereniging (NDMA) se verslag vir verlede jaar het die versoeke vir skuldmediasie tot 1 877 gestyg van 538 in 2010 af.
Van verlede jaar se aansoeke is 95% afgehandel. Hiervan is 77% (1 345) in die guns van die verbruikers beslis.
Dit beteken nie noodwendig dat die kredietverskaffer altyd verkeerd was nie.
“Dit wys in baie gevalle die bereidwilligheid van die kredietverskaffer om die verbruiker tegemoet te kom as ’n saak meriete het,” sê Magauta Mphahlele, uitvoerende hoof van die NDMA.
Volgens haar het die meeste kredietverskaffers ’n wettige hofbevel vir spesifiek beslaglegging op motors en eiendomsveilings.
Deur mediasie is 126 ¬eiendomsveilings en 207 motorbeslagleggings afgeweer.
Skuldmediasie kry ál meer erkenning in die bedryf, sê Mpha¬hlele.
“Verbruikers spaar duisende rande aan regsgeld deur die gratis diens van die NDMA.”
Die meeste klagtes wat die NDMA verlede jaar ontvang het, was volgens die verslag weens die be-eindiging van skuldberading (26%); gevolg deur beslaglegging op motors (17%); dagvaardings terwyl die verbruiker onder skuldberading was (11%); en eiendomsveilings (8%).
In die oorsigjaar het die NDMA ’n nuwe reëlstelsel vir skuldberading ingestel.
Dit sluit herstruk¬tureringsreëls in waarop bedryfsrolspelers ooreengekom het om die rehabilitasie van verbruikers te verbeter. Dit behels onder meer laer rentekoerse en gelde.
Bykans 12000 verbruikersportefeuljes bestaande uit 81208 kredietooreenkomste is kragtens die nuwe stelsel ingedien vir herstrukturering en 79% daarvan is suksesvol geherstruktureer.
Mphahlele sê skuldberaders wat dié reëls nagekom het, het ’n oplossingskoers van 80% behaal.
“Ons hoop meer skuldberaders sal die reëls ¬gebruik sodat verbruikers kan voordeel trek uit die toegewings wat die bedryf doen.”