27/11/2025
Is jou testament en boedelbeplanning in lyn met jou opvolgbeplanning?
Die jaar loop ten einde. Baie mense is besig om hul werk af te sluit en ’n welverdiende breuk te neem – sommige selfs op pad na ’n vakansiebestemming. Ongelukkig is die vakansietyd ook bekend vir padongelukke en fratsongelukke. Dit bring ’n belangrike vraag na vore: Het jy ’n geldige testament? Wanneer laas het jy dit hersien? En weerspieël dit jou huidige situasie?
Dit is praktiese vrae wat elkeen moet oorweeg. Maar daar is nog ’n dimensie wat dikwels oor die hoof gesien word: Hoe pas jou testament en boedelbeplanning in by jou opvolgbeplanning?
Die skakel tussen testament en opvolgbeplanning
Opvolgbeplanning gaan oor die volhoubaarheid van jou besigheid. Jou testament en boedelbeplanning is die persoonlike kant van dieselfde munt. As jy sou wegval, weet jou familie en jou span wie die leisels moet oorneem? Is jou opvolger ingelig en toegerus om die verantwoordelikheid te dra? En maak jou finansiële beplanning voorsiening vir afhanklikes wat agterbly?
Hier is ’n paar kernvrae om oor te d**k:
• Loop jou testament en jou opvolgplan in lyn? Of skep dit teenstrydighede?
• Is jou besigheidsstrukture duidelik uiteengesit? Wie het die mandaat om besluite te neem?
• Is jou opvolger bewus van hul rol? Het hulle die nodige opleiding en ondersteuning?
Hoe begin jy?
Dit kan oorweldigend voel, maar ’n eenvoudige benadering help:
1. Maak ’n lys van alles wat aandag verg – van jou testament tot jou besigheidsmandate.
2. Prioritiseer die lys. Plaas die nie-onderhandelbare items, soos jou testament, heel bo.
3. Doen wat jy kan, en kry hulp vir die res. Soos die Nederlandse gesegde sê:
“Stel niet uit tot morgen wat je vandaag een ander kunt laten doen.”
Die voordeel van proaktiewe beplanning
Sodra jy die belangrikste punte afgehandel het, kan jy met ’n geruste hart rus en die nuwe jaar met hernude fokus aanpak. Jou familie, jou span en jou besigheid sal jou dankbaar wees vir die duidelikheid en stabiliteit wat jy geskep het.
Praktiese aksie-items
1. Hersien jou testament
• Is dit geldig en wettig onderteken?
• Sluit dit jou huidige besigheidsbelange en persoonlike omstandighede in?
2. Kontroleer jou boedelbeplanning
• Is daar voorsiening vir afhanklikes en finansiële verpligtinge?
• Is jou eksekuteur en trustees duidelik aangewys?
3. Vergelyk jou testament met jou opvolgplan
• Stem die bepalings ooreen met jou besigheidsstrukture?
• Vermy teenstrydighede wat later konflik kan veroorsaak.
4. Bevestig jou opvolger se rol
• Weet hulle dat die verantwoordelikheid op hulle rus?
• Het hulle die nodige opleiding en toegang tot kritieke inligting?
5. Maak ’n lys van kritieke dokumente (gebruik ’n lewensleêr templaat)
• Testament, opvolgbeplanningsdokument, aandeelhouersooreenkomste, mandaatbriewe.
• Berg dit veilig en sorg dat betrokke persone weet waar dit is.
6. Prioritiseer jou take
• Plaas die nie-onderhandelbare items (bv. testament) heel bo.
• Stel ’n realistiese tydlyn om alles af te handel.
7. Kry professionele hulp
• Skakel jou prokureur, finansiële adviseur en HR-span in.
• Moenie wag tot ná die vakansie nie – begin nou.
Tip: Merk af wat klaar gedoen is. Dit gee jou ’n gevoel van beheer en verminder stres.