11/11/2023
VLAKKE VAN DIE GEESTESWÊRELD 1/4
Die Gees van Wysheid, Waarheid en Openbaring is besig om die oë van God se kinders te open, soos nog nooit voorheen nie.
Al Satan se strategieë is besig om ontmasker te word, en die kerk is op die punt om ‘n seisoen in te gaan van ongekende geestelike oorlog en oorwinning.
God se plan is om ons in totale vryheid te laat lewe.
Die Woord verklaar daarom dat as God ons vrymaak, sal ons waarlik vry wees.
Dis alleen wanneer ons in die volle waarheid kom dat ons vry sal wees.
Sedert die begin van die wêreld het Satan baie maniere geskep om mens weg te hou van die aanbidding van die ware en enigste God.
Hy wou dit regkry om mense te dwing in ‘n staat, waar hulle mensgemaakte dinge aanbid, i.p.v. die Skepper God self.
Die gees van Satan is voortdurend in ‘n staat van oorlog teen die Gees van God – met die gevolg dat al God se volgelinge betrokke is in dié oorlog.
Hierdie oorlog is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. (Efes 6:12 )
Net soos wat daar ‘n Heilige Gees van Jesus Christus in die wêreld is, is daar ook ‘n gees van die Antichris.
1 Johannes 4:1-4.
‘Geliefdes, glo nie elke mens nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse leraars het nou in die wêreld uitgegaan.
Hieraan ken julle die Gees van God: dat elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;
en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.
Julle is uit God, my kinders, en het deur geloof alreeds die Bose een oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat tydelik die wêreld beheer’.
Geen Christen mag meer oningelig hieroor wees nie, want onkunde maak jou ‘n maklike teiken.
Ons moet ons vyand ken en weet dat hy nie ‘n oomblik rus nie.
Ons moet ook weet dat die gelowige wat met sy lewe en hart aan die almagtige God vashou, niks het om te vrees nie.
Elke Christen het God se krag, tesame met baie kragtige en effektiewe wapens tot sy beskikking, en moet daarmee die magte van die boosheid konfronteer en terugdryf.
God, en nie Satan nie, moet deurgaans die middelpunt van ons bespreking wees.
Ons mag ook nooit in die negatiewe vaskyk nie.
Wat het in die verlede gebeur?
In die ewige verlede was die Drie-enige God nog altyd daar:
God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees.
God skape vir hulle ontelbare engele om hulle by te staan.
Onder die engele is die aartsengele soos Migael en Gabriël, die
Gerubs, die Serafs en baie ander engele.
Engele is in verskillende ordes en range georganiseer.
Lucifer was ‘n Gerub – pragtig, vol wysheid en volmaak.
Ook genoem die skitterende een – die môrester.
Hy is nie met sonde geskape nie, maar eendag het gedagtes van trots, hoogmoed en ongeregtigheid in hom opgekom, en hy val.
- Dr Gerrie de Haas -