01/06/2026
🎓 Elke draai met ’n doel 🎓
My naam is Tyler Marthinus. Ek is tans ’n student aan Stellenbosch Universiteit, oorspronklik van Robertson in die Kaapse Wynland-distrik.
My skoolloopbaan het begin by Vergesig Primêre Skool, waar ek Graad R tot Graad 7 voltooi het. Daarna het my pad my na Robertson Hoërskool geneem vir Graad 8 en 9. Toe my pa bevorder is as Kaptein by die SAPD in Laingsburg, moes ek ’n groot besluit neem: voltooi ek my skoolloopbaan in die Kaap of in Bonnievale? Die keuse het uiteindelik geval op Hoërskool Bonnievale, waar ek Graad 10 tot Graad 12 voltooi het — ’n besluit waarvoor ek vandag baie dankbaar is.
Soos baie jongmense het ek aanvanklik gesukkel om te besluit watter rigting ek met my lewe wil inslaan. Ek het nie altyd die kennis gehad om ingeligte loopbaankeuses te maak nie. Mnr. Riaan Boshof het my toe verwys na Bonnievale 418, waar hulle hul rekenaars beskikbaar gestel het sodat ek navorsing kon doen oor universiteite en hul vereistes. Hulle het my ondersteun met aansoeke en selfs ’n platform geskep waar ek ander leerders met soortgelyke belangstellings kon ontmoet — iets wat ’n groot verskil gemaak het.
Ek is bevoorreg om op skolevlak verskeie prestasies te behaal:
• Toppresteerder by Vergesig Primêr van Graad R tot Graad 6
• Tweede plek in Graad 7 en lid van die Leerlingsraad
• Veelvuldige Eisteddfod-prestasies, met dank aan Juf. Erasmus en personeel
• Top 20-presteerder en VRL-lid by Robertson Hoërskool
• Top 5-presteerder en VRL-lid by Hoërskool Bonnievale
Na matriek het ek in Laingsburg by die Forensiese Patologiese Dienste gewerk as ’n Forensiese Patologiese Assistent. Daarna het ek my studies voortgesit by Stellenbosch Universiteit, waar ek Onderwys begin studeer het en tans in my finale jaar is.
Ek het nie altyd oog in oog gestaan met Mnr. Prins, die huidige skoolhoof van Hoërskool Bonnievale en destyds koshuisvader van Huis Kallie Heese, waar ek my skoolloopbaan voltooi het nie. Vandag is ek egter oneindig dankbaar vir die rol wat hy in my lewe gespeel het. Die les wat ek geleer het: vertrou dat onderwysers net die beste vir jou wil hê, en gee altyd jou beste — ongeag die omstandighede.
🙏 ’n Laaste woord van bemoediging:
Vertrou altyd op ons Hemelse Vader se plan vir jou lewe. Ek sê altyd: as ’n deur voor jou toeklap, breek ’n venster. Soms voel dit of die Here deure sluit, maar onthou — Hy help dié wat hulself help. Stuur daardie aansoek, doen daardie huiswerk, bly voorbereid. Jou tyd sal kom.
✨👏